TOERJOERNAAL ANGOLA
FANIE EN BARBARA SCHOONEES
JULIE TOT SEPTEMBER 2013
Hoofstuk 3 Dorslandtrek-Fees, Okapupa, Namibië
Donderdag, 22 Augustus 2013 Na Okapupa
Ons trek teen 16:30 by die Okapupa-kampterrein in waar die Dorslantrek-Fees oor die naweek gehou gaan word.
Kampeerders verwelkom ons sommer so met die intrek.
Ons meld aan by die “kantoor “ onder die vergaderplek se dak. Rina Opperman verwelkom ons en haar man, Callie wat die fees reël, kom ook daar aan. ’n Kampplek word aan ons toegewys. Die is maar vaal en sanderig met min koelte, maar ons is dankbaar. Van die bure, veral ’n sekere Jan, verwelkom ons hartlik.
’n Kampplek is aan ons toegeken. Ons ontmoet sommige van ons bure en begin om kamp op te slaan. Die eerste taak is om die stof van die agterkant van die bakkie af te kry.
Die bakkie word afgestof voor kamp opgeslaan word
Ons kamp heel eenvoudig. Ons het die kleinste ou kampie van almal. Ons het geleer om met al hoe minder klaar te kom. Dit is net die maklikste. Ek grawe die agterwiele bietjie in die grond in sodat die bakkie gelyk staan. Dit help ook om makliker in en uit die bak te klim.
Ons kamp heel eenvoudig.
Ons beplan ons staanplek en ek grawe die agterwiel bietjie in die grond in om waterpas te wees en om die in- en uitklim makliker te maak.
Ons ontmoet meer bure en kuier rond. Ons onmiddellike bure is Gert en Henna Dahms van Windhoek wat met hul dogter, Dalene en Gert se suster, Marie, kamp. Dalene is ’n leerling-paramedikus. Oorkant ons is Kerneels (Mac) Mc Donald, en Joggie.
Ons stap na die pragtige lapa langs die rivier en ontmoet nog mense. Hulle is almal sulke hartlike boeremense.
Die lapa langs die rivier
Ons gaan stort teen 17:00 voordat die stormloop begin. Ons gaan braai wors by bure, eet en gaan slaap vroeg.
Vrydag, 23 Augustus 2013 Okapupa, Dorslandfees-Kampterrein
Ons staan teen 7:00 en maak ons eie ontbyt. Teen 9:00 is die openingsdiens. Hier word ook die kampreëlings bekend gemaak. Daar word ook ’n foto-kompetisie aangekondig wat veral vir die kinders bedoel is.
Dorslandtrek-byeenkoms
Ons ontmoet vir Faan van der Merwe wat later die toer deur Angola sal lei. Ons ontmoet ook vir Pieter en Ina Potgieter wat oorkant ons kamp. Pieter was professor in Potchefstroom in Staatsleer en politieke wetenskap. Ek vra hom na die bekende manne van Potch wat politieke kommentaar oor die media gee. Hy sê dat hy hulle opgelei het. Hulle is manne soos Proff Dirk Kotze en André Duvenhage. Pieter boer tans tussen Potch en Parys.
Ons kamp miskien eenvoudig maar eet lekker!
Ons koop 4 sosaties @ N$60-00 om die aand te braai. Na middagete, neem ek ’n heerlike middagslapie op die harde grond in die skaduwee van die bakkie. Binne die bakkie is dit net te warm. Daarna is ’n koue stort nodig.
Teen 16:30 is daar weer ’n byeenkoms waar daar ’n historiese oorsig oor die Dorslandtrekkers gegee word.
HISTORIESE OORSIG OOR DIE DORSLANDTREKKERS
Die Dorslandtrek het plaasgevind vanaf die jaar 1875.
Die Afrikaner-volk het deur die eeue hoofsaaklik al 3 groot trekke beleef:
1. Die Voortrekkers
2. Die Dorslandtrek
3. Die uitwyk van Suid-Afrikaners na die buiteland
Die Dorslandtrekkers het ook verskeie trekke beleef.
Daar is uiteenlopende aantal redes waarom die Dorslandtrek plaasgevind het. Die belangrikste hiervan is die volgende:
1. Die burgers het nie met President Burgers saamgestem nie.
2. Die Engelse bedreiging
3. Die trekkerslus wat diep in die Boere gewortel was.
Die eerste trek was dié van Gert Albertse. Dit het bestaan uit 16 waens en 18 mense. Hulle was goed ingerig en het selfs ’n stoof om een wa gehad waarop daar in die ry gekook kon word.
Hulle het in 3 groepe getrek: eers 5, dan weer 5, en weer 6 waens om die druk op waterdrinkplekke te verlig.
Hulle het goed getrek en veilig by Rietfontein by Gobabis aangekom.
Die tweede trek het uit 100 gesinne, 130 waens, 2 000 osse, 2 000 los vee en 500 perde bestaan. Hulle het 2 leiers gehad: Jan Greyling en Lourens du Plessis.
Hulle het ook in groepe getrek maar slegs ’n paar honderd meter uitmekaar.
Met hierdie trek het dit nie goed gegaan nie. Die leiers het botsende persoonlikhede gehad. Lourens lê ’n vergadering neer, maar Jan trek voort. Hulle trek gevolglik in 2 groepe.
Jan het sakke meel van die waens afgegooi om die waens ligter te maak. Later is waens agtergelaat om meer as een span osse voor een wa te span.
Die diere het vooruit gehardloop wanneer hulle water ruik en dan die waterbron vertrap. Soms is dooie diere in ’n waterbron gelaat wat die bron vir opvolgende trekkers vergiftig het.
Soms is van die trekdiere teruggejaag na vorige drinkplekke om te gaan suip. Dan word hulle teruggebring om die waens verder te trek. In ander gevalle is die osse vooruit na drinkplekke gejaag en dan teruggebring om weer te kom trek.
Dit was baie warm en die waternood het hoog geloop. Die kinders is geleer om modderbolletjies by die bronne te maak en dan die vog deur materiaal daaruit te suig. Wanneer diere geslag is, is die bloed gedrink en die beesmis uitgesuig. Water moes soms per lepel gerantsoeneer word.
By geleentheid het ’n Boesman aan hulle water in kalbasse verkoop. Hulle het hom afgeloer waar hy die water kry en toe gevind dat hy die water in ’n bron met ’n riet uitsuig en dan in die kalbas spoeg.
Talle mense het op hierdie trek gesterf. Van die plaaslike leiers het hulle nie toegelaat om mense op hul grond te begrawe nie. Die lyke moes dus op die waens verder vervoer word. Die trekkers het dan saans met die waens laer getrek, ’n begrafnis in die laer gehou, die graf toegegooi. Die volgende oggend is die beeste oor die graf gejaag die grond vas te trap en om alle spore en tekens van die graf uit te vee. Die grafte is ook nie gemerk nie en uitgewis uit vrees vir opgrawing. Hier is dus baie ongemerkte grafte in Botswana.
Daar word bereken dat hier 300 mense van Malaria en ander oorsake dood is. Nêrens kon vasgestel word dat mense van dors dood is; wel van moontlik aanverwante oorsake, bv. nierversaking.
Dit was ’n groot uitkoms vir die trekkers om Ngami-Meer, suid van die Okavango-Delta te bereik. Perderuiters is vooraf vooruit daarheen gestuur om solank water te gaan haal. Die trekke het lank hier oorgestaan om uit te rus en kragte op te bou.
Lourens du Plessis het toe na Rietfontein by Gobabis getrek en veilig daar aangekom.
Jan Greyling se trek het besluit om nie weer van die water van die Okavango pad te gee nie. Hulle het gevolglik noord-wes langs die Delta opgetrek. Hier het die muskiete hulle uitgeroei en omtrent die hele laer het aan Malaria uitgesterf. Die muskiete lê hul larwes in de bloedstroom. Die hele trekpad langs die rivier was een streep grafte. Selfs hele gesinne is uitgewis.
Uiteindelik het die oorblywendes besluit genoeg is genoeg, en het toe die vlakte in die rigting van Tsumeb in getrek.
Die derde trek was onder leiding van FJ Botha in 1877. ’n Kleurling, Worthington, was hul gids en het hulle veilig gelei na Etosha, Rusplaas (Kaoko Otavi) en Swartbooisdrift. Van daar is hulle na Humpata, wat hulle 6 jaar later bereik het.
Die ander trekke het ook vanaf Rietfontein (naby Gobabis) opgetrek na Namutoni. Van daar het hulle gehoor van Kaoko Otavi waar daar konstante fonteine is. Hulle het daarheen getrek en vir 17 maande daar gebly. Hulle het selfs permanente huisstrukture en ’n kerk/skoolgebou opgerig. Hulle het dit Rusplaas genoem. Die plaaslike bevolking wou hulle nie langer daar hê nie en hulle het verkenners na Angola gestuur, met die Portugese regering kontak gemaak en daarna besluit om na Angola te trek.
Die Dorslandtrekkers is meestal deur Swartbooisdrift na Angola. Later trekeers het by Bagani in Angola ingegaan. Swartbooisdrift is genoem na die leier van ’n groep van die plaaslike bevolking wat hul gesteelde beeste in Angola gaan terughaal. Met die terugtrek het Swartbooi in die drif verdrink.
Die Portugese regering het aan die boere ’n gebied by Humpata toegeken. Hulle het hoofsaaklik in ’n gebied gaan woon waar persele aan elke gesin toegeken is. Dit het in ’n nuwe dorp ontwikkel. Die boere het ’n dam in die Humpata-rivier gebou en water met ’n kanaal na die dorp aangelê. Elkeen het sy stukke grond geploeg en die Portugese regering het saad aan hulle beskikbaar gestel. Na ’n jaar of wat kon hulle begin om ’n oes in te samel.
Plase in die streek is ook aan die boere toegeken. Die gebied wat begrens word deur die berge in die weste en rante in die ooste, was egter te klein vir die trekkers. Sommige van hulle het hulle tot die beroep van transportryers gewend en vrag na die kus en terug vervoer. Andere het handelaars geword. So het Pieter van der Smit goedere uit Nederland en ander Europese lande ingevoer en ’n winkel gehad. Andere het by die regering aansoek gedoen om beter plase. Gevolglik het daar weer ’n trek na die noorde plaasgevind. Boere het gevestig in die streek Caconda en by Mombolo.
Die kerk en onderrig van kinders was vir die boere baie belangrik. ’n Predikant (Biewenga) en onderwysers (Pieter van der Smit) is uit Nederland verkry. Die boere het hulle verwelkom maar die wêreld vir hulle ook moeilik gemaak. Biewenga het hom later tot die sending onder die plaaslike bevolking gewend. Pieter van der Smit is uit die skool geskors onder andere omdat hy die kinders ander liedere as Psalms laat sing het. Predikante (Leon de Cachet en andere) is deur die Gereformeerde Kerk gestuur om die boere te bedien, kerkraadslede te bevestig, kinders te doop en lidmate te bevestig en nagmaal te bedien. Daar is streng by die kerkorde van die Gereformeerde Kerk gehou.
Die boere het baie gesukkel om onderwysers te bekom. Baie leke het as onderwysers opgetree. Die gevolg was dat baie, volgens Pieter van der Smit, nie meer omgee het nie en kinders het sonder skoolopleiding grootgeword het.
Angola en in die besonder die gebied Que by Caconda was baie ongesond. Mense het baie aan “Rooikoors” (Malaria) gely. Pieter van der Smit sê dat hy dikwels sulke koorsaanvalle gekry het. Eers kouekoors en dan die sweet. Talle mense en veral die kinders het daaraan gesterf.
Dit was een van die veroorsakende faktore waarom hulle weggetrek het. Hulle het 3 bestemmings oorweeg. Suid-Wes-Afrika, Transvaal, of die Belgiese Kongo. Die feit dat die Kongo ’n Belgiese kolonie was, het dit vir hulle baie aantreklik gemaak.
Die Portugese regering het al meer druk op die boere geplaas om by die plaaslike bevolking te amalgameer. Hulle is verbied om hul eie kerk en skole te beoefen. Dit was toe so teen die grein van die boere dat hulle in 1928 besluit het om na Suid-Wes-Afrika (SWA) terug te keer. Die SWA-regering is sodanig versoek en hulle is terugverwelkom.
Die SWA-regering sou die boere by Swartbooisdrift ontmoet en vir hulle help met vestiging. Die reëling is getref dat die boere met verdrag oor die loop van ’n jaar by Swartbooisdrift moes aankom, om opeenhoping te voorkom. Dit het egter nie heeltemal so gewerk nie, want die boere was ongeduldig en haastig en dit het groot probleme by Swartbooisdrift veroorsaak.
’n Totaal van 1900 siel onder die boere is terug na SWA. Aangesien hulle tot 53 jaar in Angola was, kan mens aanvaar dat daar min is wat uitgekom het wat ook daar ingegaan het. Baie op die pad daarheen omgekom het. Dit is nie aan my bekend hoeveel optrek gegaan het en hoeveel daar aangekom het nie.
Die SWA-regering het die boere weens die vrees vir siektes, nie toegelaat om hulle diere oor ie Kunene-rivier te bring nie. Daar was slegs 2 pare osse beskikbaar wat die waens deur die rivier gebring het. Vandaar moes die waens die rant op deur spanne donkies gesleep word. Die waens was te swaar en later is die boere toegelaat om 2 spanne osse deur die rivier te bring om met hierdie taak te help.
Die boere moes hulle diere sonder sorg oorkant die rivier laat. Dit was ’n smartlike afskeid, veral van die honde. Dit is vertel hoedat die honde in die nag oorkant die rivier gestaan en tjank het. Mens kan net dink aan die lyding vir mens en dier, veral die kinders. Hierdie diere het moontlik almal van honger in Angola gevrek.
Die boere het in SWA aan die noorde- en oostekant van die huidige monumentjie kamp opgeslaan. Die wêreld is baie klipperig en nie oral gelyk nie. Hier het die SWA-regering hulle met vragmotors kom haal en na ’n oord naby Kamanjab vervoer. As mens dink dat dit 1928 was, kan mens net dink hoe die vragmotors gelyk het.
Van Kamanjab af is sommige van die boere na Gobabis gebring waar grond wat nog nie deur plaaslike boere beset is nie as plase van 800 hektaar aan hulle gegee is. Hulle moes die plase aan die regering oor 30 jaar afbetaal. Indien dit gevind is dat hulle nie suksesvol boer nie, is die plase afgeneem. Die plase was egter van baie swak gehalte en baie het dit nie lewensvatbaar gevind nie. Hulle moes later ’n ander heenkome vind.
Sommige boere het besluit om na Transvaal terug te trek. Sommige van hulle het nie kans gesien om soos hul vadere weer deur Botswana te trek nie maar na die Oranjerivier en so langs die Vaalrivier terug na Transvaal.
Ná die eerste 3 groepe van Dorslandtrekkers het andere ook gevolg. Die roete is toe al baasgeraak en dit het makliker gegaan. Lateraan is Botswana vrylik oor en weeg oorkruis.
Die vraag kom weer by mens op: Was dit die moeite werd?
Die vraag word gevra of die trek die moeite werd was.
Elke tyd moet seker aan sy eie omstandighede beoordeel word. Dit lyk vir ons of die feesgangers oor die algemeen hul voorgeslagte as helde beskou. Ons eie mening is dat die Dorslandtrek ’n ramp was; meer as dit: Dit was ’n selfmoord-tog. Dat mense dit aan hulself en hul diere gedoen het, is erg genoeg, maar die feit dat hulle hul kinders aan hierdie lyding onderwerp het, was vir ons te veel om te verteer.
________________________________________________________________________
Een van die feesgangers wat in die Kunene Lodge 20 km wes tuis is, se kombi wil nie vat nie en ons probeer vergeefs om dit weer aan die gang te kry.
Ons gaan stort (weer). Ek braai die sosaties by Jan-hulle.
Barbara gaan kuier met haar kitaar by die ander groep familie en vriende oorkant ons waar daar gesellig musiek gemaak word. Sy val in by hulle “orkes” en geniet dit baie. een van die manne het ’n kas met stok en tou waarvan hy ’n baskitaar gemaak het.
Kuier by die bure
Barbara word deel van die orkes
Gert en Henna het ons ook vir koffie genooi. Ek gaan solank na hulle maar Barbara sien nie kans om die orkes vaarwel toe te roep nie. Later kom sy toe wel oor die koffie. ons kom gevolglik eers na 22:00 in die bed.
Saterdag, 24 Augustus 2013 Okapupa, Dorslandfees-Kampterrein
Vandag is ’n redelike afdag. Ons begin darem met ’n openingsgeleentheid en godsdiens.
Hierna is dit ’n sportdag. Allerlei boeresport-geleenthede is vir die kinders gereël. Vir die grootmense is daar die beroemde: “Slaan ’n gholfbal van Namibië na Angola”. Dit was nou lekker pret. Vanaf die lapa langs die rivier probeer hulle om ’n gholfbal oor die rivier tot in Angola te slaan. Die inskrywingsgeld is N$50-00 per bal. Mens kan darem sien wie die golfers is want dit nie net die groot sterk manne en vroue nie, maar selfs ligte vrou kry dit reg. Menige bal het egter in die rivier skipbreuk gely.
Slaan ’n gholfbal van Namibië na Angola
Die middag vat ek weer my middagslapie onder die bakkie.
Ek stap deur die kamp op soek na Basie, die boer van Humpata wat vir ons Angolese geld kan uitruil. Ek moet omtrent in ’n ry inval vir ’n beurt maar gesels darem lekker met die ander “kliënte”. Ek ruil N$2000 by Basie en kry ongeveer 80 000 Kwanzas. Hy sê dat ons op die plaas weer geld kan ruil as ons meer nodig het. Dit was egter nie nodig nie.
Die Dahms-bure nooi ons die aand vir ’n braai. Hulle is so hartlik en bederf ons in die grond in.
Daarna is daar toe weer ’n byeenkoms met ’n Talent-konsert. Barbara is deel van die orkes wat sommerso impromptu ontstaan het. Die man met die tuisgemaakte bas-ghitaar trek baie aandag. Daarna is die verkiesing van ’n Bestuur en die stigting van ’n Dorsland-gilde.
Daarna is daar toe weer ’n byeenkoms met ’n Talent-konsert en die uitslag van die foto-kompetisie. Daarna is die verkiesing van ’n Bestuur en die stigting van ’n Dorsland-gilde.
Barbara neem deel aan die Talent-konsert
Die Dahms-bure nooi ons die aand vir ’n braai. Hulle is so hartlik en bederf ons in die grond in.
Sondag, 25 Augustus 2013 Okapupa, Dorslandfees-Kampterrein
Ons is teen 6:00 op. Om 8:00 ry ons na Swartbooisdrift, ongeveer 12 km wes.
Daar is baie motors en bakkies wat daarheen ry en die stof hang swaar in die vallei.
Daar is ’n drif vol water en daar is 3 moontlik plekke om deur te gaan. Ons neem die 3de een en dit is ellendig sleg.
Ons parkeer teen die opdraand na die monument en stap na die feesgeleentheid.
Voor die monument is daar twee ry met grafte van Dorslandtrekkers wat te sterwe gekom het na die deurtog deur die rivier en daar in SWA gekamp het.
Een van die grafte gryp ons so aan die hart dat menige traan hier gestort is. Dit is die graf van ’n 17 jarige vrou wat oorlede is na die geboorte van haar eerste kind. Die bedroefde eggenoot stort sy hart in die grafskrif uit. In daardie tyd was dit algemeen dat ’n dogter trou tussen die ouderdomme van 13 tot 17. As sy 20 jaar oud geword het, raak haar kanse op ’n huwelik skraal.
’n Ry grafte voor die monument by die kampterrein van die terugkerende Trekkers
’n Roerende en aangrypende grafsteen
Feesgangers voor die monument
Feesgangers soek skuiling in die skaduwee
Callie Opperman lei die verrigtinge by de Swartbooisdrift-monument
Die lewe dra sy letsels
Callie Opperman se pa, Danie, wat as Dorsland-kleuter deur die rivier getrek het, open met Skriflesing en gebed. Hy het nie ’n Bybel voor hom nie en dra ’n Psalm voor. Hy doen ’n roerende gebed.
Callie lei ’n huldiging voor die monument. Daarna onthul sy pa ’n gedenksteen aan hierdie geleentheid. Hulle is drie mense wat uit die trek dateer.
Drie oorlewende Dorslandtrekkers
Die Voortrekkers wat verder oos langs die rivier kamp, lewer ’n huldigings-tablo oor skoolonderrig in daardie tyd.
Die Voortrekkers lewer ’n tablo oor die onderwysstelsel in die Dorslandtyd
Hierna ry almal met hul voertuie van die koppie af en stop by die rivier regoor Swartbooisdrift. Callie gaan wys ons eers die murasie van die ou polisiekantoor was daar gestaan het. In die middel van die murasie maak ons ’n klipstapeling.
Klipstapeling op die terrein waar die polisiekantoor gestaan het
Van hier stap ons af na die rivier waar Callie vir ons die oorspronklike Swartbooisdrift uitwys. Die rivier het hier ’n draai gemaak en loop op hierdie plek eintlik suidwaarts. Niemand waag dit te na aan die water nie uit vrees vir die krokodille.
Die drif van Swartbooisdrift
Hierna vertrek elkeen op sy eie terug. Van hier ry ons eers weer die koppie uit om na die kampterrein van die Dorslandtrekkers te gaan kyk. Die geskiedenisboeke beskryf die plek as ’n onhebbelike kampterrein. Dit was so klipperig en die bosse het nie veel koelte as skuiling gebied nie. Die grond en klippe was so warm dat dit mens deur jou skoensole gebrand het.
Hier kry ons vir oom Danie Opperman en sy vrou. Hulle het ook die terrein kom verken waar hy as kleuter saam met sy ouer in die somer van 1928/29 gekamp het in afwagting van vervoer na hul nuwe tuiste in SWA.
Danie Opperman by die kampterrein waar hy as kleuter saam gekamp het.
Die eerste ent pad terug is baie sleg en ons gaan met die lae reeks ratte oor ’n koppie.
Net na die koppie kry ons die afdraai na die Kunene River lodge.
Ons besluit om daarheen te ry. Die pad is egter so sleg en gaan weer met ’n 4x4x lae rat oor ’n koppie. Ons besluit om om te draai, maar ander kampers kom by ons verby en dit bemoedig ons om tog maar aan te ry.
Die bedenklike pad na Kunene-Lodge
Na ’n kilometer of wat kom ons by die lodge. Ons stap na die kroeg/restaurant wat oor die rivier uitkyk. Hier vind ons vir Tony en sy dogter, Hanli, wat iets by ’n tafel drink. Ons sluit by hulle aan en ek gaan koop vir ons koeldrank. Hulle sê dat hulle hier vir hul familie sit en wag wat ook die volgende dag Angola toe vertrek.
Kunene-Lodge langs die Kunene-rivier
Toe ons verder ry neem ons die alternatiewe pad na die hoofpad en dit is heel skaflik en nie so vêr nie. Hierna beveel ons mense aan om eerder die tweede afrit na die Lodge te neem.
Toe ons by die drif met die water kom, neem ek sommer die eerste moontlikheid. Die bakkie se neus sak toe so diep in die water in dat ek toe weet waarom daar 2 ander moontlikhede is. Die middelste een is hopelik die beste, Ons sou dit toe later gebruik.
Ons is pas terug in die Okapupa-kamp af mense wat ons nog nie ontmoet het nie, kom na ons aangestap. Hulle is Jo en Liedie Hiemstra met hul seun, Nimo en sy vriend, Francois. Hulle verneem by ons waar Tony hulle kamp, want hulle verwag hulle. Ons sê toe vir hulle dat ons vir Tony-hulle pas by die Kunene Lodge gekry het waar hulle vir die Hiemstras sit en inwag. Ons het toe nooit uitgevind hoe hulle mekaar toe gekry het nie. Hulle het waarskynlik na die lodge waar hulle sou tuisgaan, teruggery.
Ná middagete lê ek weer lekker en slaap onder die bakkie.
Om 16:30 is die afsluitingsgeleentheid van die fees. Callie hou die diens. Hy laat ’n pragtige Psalm sing maar net 2 verse. Ons was so lus om nog te sing.
Feesgangers in die vergaderplek by Okapupa
Hy preek uit Openbaring 5 en 6. Dit was ’n baie mooi preek maar ons het gedink dat hy met hoofstuk 5 kon volstaan. Dié deel van die preek uit hoofstuk 6 het dit bietjie lank gemaak.
Ná die diens was daar ’n dankbetuiging vir die reëlingskomitee en andere. Daar was ook huldiging en oorhandiging aan Oom Danie Opperman en sy gesin.
Hierna ook die uitslag van die fotokompetisie. Die kinders het nogal allerhande vindingrykhede aan die dag gelê. Hulle het selfs vir Barbara genader om iets snaaks te doen.
Ons groep wat na Angola gaan toer, vergader. Faan reël met ons dat ons in 2 groepe deur die grens sal gaan. Een groep gaan deur die grenspos by Ruacana en ons ander gaan deur Qalueque.
Die Dahms-familie nooi ons weer vir braai en aandete. Later die aand gaan groet ons ’n paar van die bure, onder andere die Potgieters wat oorkant die pad kamp. Pieter was professor by Potch se universiteit in filosofie en politieke wetenskap. Ek vra na die twee manne wat so gereeld oor die radio en televisie vir kommentaar genader word, Theo Venter en Andre Duvenhage. Hy sê dat hy hulle opgelei het.
Ons slaap vir die laaste nag by Okapupa en maak gereed om die volgende dag na Angola te vertrek.