TOERJOERNAAL ANGOLA
FANIE
EN BARBARA SCHOONEES
JULIE
TOT SEPTEMBER 2013
Hoofstuk 2 Op
pad na Namibië
Donderdag, 15 Augustus 2013 Pretoria Na
Botswana
Ons wekker lui
6:45. Ons laai die laaste goedere in
bakkie. Ons ontbyt, groet Fanus. Ons reis begin uiteindelik om 9:20.
Ons vertrek op
die Angola-toer vanaf Pretoria
Ons skaaf
bietjie aan ons program om die verlore dae in te haal. Ons gaan probeer om Makgadikgadi die aand te
haal. Ons besef egter nie die baie
nedersettings wat daar langs die pad is wat mens ophou nie.
Ons gaan op die
N1 deur 3 tolhekke. By Kranskop draai
ons af op die R101 want ek weet dat dit langs die tolpad loop en omtrent net so
goed is.
Ek het al baie
kere gesê dat die nuwe name van dorpe mens nog in hierdie vaderland van ons
gaan laat verdwaal. Ek het nie besef dat
dit regtig met ons gaan gebeur nie.
Ek het nogal
gedink dat ons besonder u in Potgietersrus is.
Ons doen hier inkope by ’n supermark.
Toe ons uitry, soek ons die N11, maar kry dit nie. Ons vra naderhand in die dorp daarna. Hulle sê dat ons met die R101 eers tot in
Potgietersrus moet ry. Ek vra toe wat
hierdie dorp se naam dan is. Dit is toe
al die tyd Naboomspruit!
Toe ons by
Potgietersrus uitry, wil die dorp en die spoedbeperking net die ent kry
nie. Ons vorder net nie. Later gaan dit darem beter en ons arriveer by
Tom Burke. Hier moet ons met diesel vul
want ons is onseker oor die verkryging van kontant in Botswana. Met ’n vorige toer kon ons nie met die
Maestro-kaart hier geld trek nie. Die
diesel kos hier egter ’n astronomiese R14-29 per liter.
Ons ry die
laaste 10 km na Martinsdrift en gaan deur die twee grensposte. Ons betaal R200-00 vir die 150 pulas vir die
gebruik van Botswana se paaie. Dit was
geld baie swak gespandeer want die eerste deel van die pad is vol
slaggate. Ons ry slingerend om die gate
te probeer misry en ons vorder net nie.
Later gaan dit bietjie beter, maar mens moet daarop bedag bly.
Ons ry die 113
km op na Palapye. Sowat 10 km suid van
die dorp kom ons op die A1 wat van Gabarone af kom. By Palapye (931 meter bo seespieël) draai ons
wes op die roete na Serowe.
Die
spoedbeperking bly 60 km/h. Ons is al
heeltemal uit die dorp en daar is geen huise meer naby die pad nie. Nogtans word die spoedbeperking nie opgehef
nie. Ons is baie gefrustreerd hieroor en
begin maar solank bietjie spoed optel.
Die ander verkeer beweeg selfs onder die 60 km/h en dit hou ons baie
op. Die son trek water en ons moet nog
vêr ry.
Daar keer ’n
verkeerskonstabel ons voor. Ons het glo
na bewering te vinnig gery! Hy het egter
nie ’n metings-apparaat nie en laat ons na ’n waarskuwing vry. Net daar word die beperking juis verander na
80 km/h, waarmee ons die bulte na Serowe aflê.
By Serowe draai
ons regs na die noorde en ry na die dorpie, Paje. Ná Paje draai die pad noord-wes.
Ongeveer 10 km
buite die dorp kry ons ’n bordjie wie sê dat ons na 1 km ’n kampplek sal
kry. Ons draai toe daar deur ’n
wildplaas-toegangshek in.
By die kantoor
by die hek verneem ons na die kampplek.
Dit is ’n paar km van die pad af en kos ongeveer R500 vir die nag. Ons wys dit toe vriendelik van die hand. Teen so ’n tarief kan ons nie die toer begin
nie.
Toe ons by die
kantoor wegtrek, sit ons klaar vas in die sand en moet met 4x4 daar uit ploeg.
Toe ons verder
ry, besef ons dat ons Makgadikgadi eers in die stik donkerte gaan haal. Ons moet maar vir kampplek uitkyk. Ek sien nogal oop kolle in die bos lang die
pad en kyk vir die regte een uit om in te aan kamp. Ons mis egter elke moontlikheid en die bosse
begin al digter word.
Toe ons oor ’n
bultjie ry, sê Barbara dat sy ’n geskikte plek gesien het. Ons draai om en ry vir ongeveer ’n kilometer
terug. Ons is ongeveer nog 10 km voor
die volgende dorp. Die koördinaat is S21
56 501 E26 29 047.
Hier kry ons ’n
rusplek langs die pad met tafeltjie en stoeltjies wat ongelukkig redelik deur
vandalisme verwoes is. Die voordeel is
dat die plek langs ’n effense uitgrawing in die pad is en die plek beswaarlik
sigbaar is van die pad. Ons weerkaatsers
sal in elk geval nie deur verbygaande voertuie opgemerk word nie.
Die son lê net
bo die horison, toe ons begin kamp. Ons
kan dus nog in die daglig vir ons regmaak vir die nag en kos maak.
Kampplek iewers langs die pad in Botswana

Kampplek iewers langs die pad in Botswana
Ons verstom ons
aan die digtheid van die bosveldbome.
Die vraag kom by ons op: Hoe het
die Dorslandtrekkers met hulle waens deur die bos gekom? Hulle het seker maar beespaadjies gevolg, of
die paadjies wat die plaaslike bewoners gebruik het. Dit was vir seker nie altyd die rigting wat
hulle wou trek nie en hulle moes meestal die plaaslike bevolking vermy.
Dit is ’n warm
aand. Ons gaan slaap teen 20:00. Deur die nag begin ’n suidewind sterk waai en
dit word koud.
Vrydag, 16 Augustus 2013 Iewers langs pad in Botswana - Na Gweta
Ons word eers
teen 6:30 wakker. Die son kom om 6:45 op
agter wolk-riwwe wat deur ’n koue front oor die hele hemelruim strek. Die kleur die wolke pragtig rooi. Ons geniet hierdie belewenis om hier in die
oop natuur in die wildernis van Botswana so die dag tegemoet te gaan.
Ons geniet
ontbyt en vertrek so teen 9:00. My
voetbrug pyn vanmôre en Barbara bestuur.
By die dorp,
Letlhakane (960 meter bo seespieël) draai ons noord. Sowat 10 km verder ry ons oor die hoofweg na
Francistown. Ons volhard noord en kom by
die dorpie, Mmatshumo. Hier eindig die
teerpad. Eintlik is dit die pad wat hier
eindig want van hier moet mens net die mees duidelike, of te wel, die
onbeduidende spore in die bos soek. Ek
neem dus die bestuurswerk oor.
Ons kom by ’n
plek waar ons ’n rantjie afgaan. Die pad
is onnoemlik sleg. Van hier kry ons
uitsig oor die Makgadigadi-Panne war voor ons uitstrek.

Ons bereik die Makgadikgadi-Pan
Ons ry vêr langs
die pan en later in die pan. Die pad in
die pan is baie beter as dié langs die pan.
Ons verwag dat
ons iewers na die Kubu-Eiland oos moet draai, maar ons kry nie so ’n afdraai
nie. Ons het die GPS se koördinaat op
die eiland gestel en Griet, die GPS se spraakstem, bly gelukkig oor ons reis en
sê nie ’n woord nie.
By ’n hek waar
die migrasie van diere beheer word, kom ’n man van ’n huisie af aangestap. Hy maak vir ons die hek oop. Van hier draai die pad self oos.
Ons ry weer deur
die pan en die Kubu-Eiland verskyn op die horison. Dit is lekker om ons bestemming wat ons die
vorige dag al wou bereik, te sien nader kom.

Kubu-Eiland in die Makgadikgadi-Pan

Barbara stap die laaste ent na Kubu-eiland

Kremetartboom op Kubu-eiland
Ons hou stil reg
voor die reuse kremetartboom wat die eiland beroemd maak. Die hoogte van die pan hier is 910
meter. Die geskiedenis van die eiland
word op die bord uitgestippel.

Ons eet hier ons
padkos. Die aangeduide kampplek hier het
slegs ’n toilet wat in duie gestort het en verder is die ergste klippe darem
uit die pad gerol.
My voet is so
seer dat ek nie kan loop nie. Barbara
stap alleen die eiland uit en kry murasies waarvoor die eiland ook bekend
is. Aan die ander kant strek die pan
weer tot by die horison. Ek mis
ongelukkig hierdie ervaring.

Murasies op Kubu-eiland
Ons ry langs die
eiland noordwaarts en kry toe inderdaad ’n paar kampeerders. Hier is
ook ’n huis van ’n opsigter.
Ons ry verder
noord-wes met die spore deur die pan.
Soms ry ons deur die bos en dan weer deur die pan. Soms vurk die pad en ons moet maar kies en
hoop dat ons reg is. Meestal kom die
spore weer bymekaar uit.
Ons kom weer by
’n diere-beheerpunt. Die man wat van ’n
huisie af aangestap kom, wys vir ons dat ons langs die grensdraad wes moet ry
om na Gweta te gaan. Die pad is baie
hobbelrig deur die sand en ons vorder stadig.
Ons ry vêr langs
die draad totdat die spore weer in die pan noord-wes draai. Ons volhard lank op hierdie spore. In die pan kan ons voluit enige spoed
ry. Ons hou maar so by die 110 km/h.
Ons gaan later
weer oor ’n gras-eiland. Ons hou op ’n
paar plekke stil en neem ’n paar foto’s.

Lugspieëlings in die Makgadikgadi-Pan

Lugspieëlings in die Makgadikgadi-Pan

Lugspieëlings in die Makgadikgadi-Pan
Uiteindelik gaan
die spore uit die pan en ons nader ’n paar plaashuise waar die plaaslike
bewoners hul huis met pale teen olifante beskerm. Ons volg maar die duidelikste spore tussen
die huisies deur en dié lei ons terug in die pad. Ons is doodgelukkig hiermee want die pad in
die pan is beter as dié daarbuite. Dié
spore lei ons omtrent na die middel van die pad en daar draai dit in ’n sirkel
om. Daar is ’n braaiplek en ’n
verwaarloosde toilet wat windskeef staan.
Ons oorweeg en
eenvoudig noord vêrder in die pan te ry want iewers moet dit by die hoofpad
tussen Nata en Gweta uitkom. Hierdie
teerpad loop deur ’n deel van die pan.
Ons handleiding
waarsku egter dat mens nie alleen en sonder spore deur die pan moet probeer ry
nie. Ons draai dus om en ry terug na die
plaashuisies.

Tipiese plaashuis met olifantwering
Hier kry ons ’n
swart vrou wat binne haar veiligheidsheining werk. Die taal is maar ’n probleem en ek vra net na
“Gweta”. Sy beduie in ’n noord-westelike
rigting.
Ons volg spore
in daardie rigting en kom later by ’n ander soortgelyke plaashuis aan. Hier kry ons weer ’n swart vrou aan die werk
buite haar huis, maar binne die olifantwering.
Op my vraag na “Gweta”, wys sy so tussen die hoederhok en die beeskraal
deur.
Daar is geen
spore nie, maar ons ry daar deur. Aan
die ander kant begin die bos. Daar is
egter ’n opening in die bos wat groot genoeg vir die bakkie is en ons ry daar
in. Daar is geen spore van ’n ander
voertuig nie, maar ons ry in die sand aan deur die bos. Soms groei die bos bietjie wild in die pad in
en dit krap die bakkie. Daar is egter
nie nou tyd om die pad oop te snoei nie.
Ná enkele
kilometer sluit daar spore van die regterkant af by ons “pad” aan en toe is
daar darem ’n spoor om te volg. Nog
later sluit sulke spore van die linkerkant af aan. Toe vlam die hoop op dat ons tog pad is na
die dorp toe.
Die GPS wys net
dat ons op pad na nêrens is. Ek stel die
GPS toe dat dit ’n wyer hoek wys. Op die
bokant van die skermpie verskyn die hoofpad van Nata na Gweta; die A3. Op die skerm is daar so ’n klein horinkie aan
die hoofweg. Ons ry teen ’n hoek van
ongeveer 90 grade daarheen. Ons rigting
is reg in die rigting van die horinkie.
Die GPS werk nou teen so ’n groot hoek dat ons geen vordering op die
skerm kan waarneem in weerwil van die kilometers wat ons aflê.
Op hierdie
eensame stofpaadjie tref ons toe skielik die spitstydverkeer na Gweta.

“Spitsverkeer” op pad na Gweta
Dit gee ons nie
veel hoop nie, want volgens die GPS maak ons geen vordering nie. Ons moet maar net aanhou en aanhou op die
spore deur die bos.
Uiteindelik kan
ek op die GPS-skerm weer in zoom. Dit
maak die horinkie langs die hoofweg al groter.
Nogeens
uiteindelik kom ons ná ongeveer 40 kilometer by die horinkie aan. Dit is die pad na Gweta en ons bereik die
dorpie.

Die dorpie, Gweta
Ons wil nie tyd
mors nie en draai dadelik na die hoofpad, die A3, om Maun nog die aand te
haal. By die hoofpad hou ek stil om eers
die bande te pomp ná die sandpad. Daar
besef ons dat die son binne ’n halfuur gaan sak en ons het nog bykans 2 ure om
na Maun te ry. Ons draai dus net daar om
en gaan soek blyplek in Gweta.
In die dorp kry
ons teen 17:3 die lodge. Dit lyk maar
baie industrieel, maar ons gaan na die kantoor.
Die plek behoort aan ’n Duitser.
Hy sê dat hy hier bly omdat hy vlug vir die rumoerige lewe van Duitsland
en die vredevolle lewe van Afrika geniet.
Ons betaal 240 Pulas met kredietkaart want ons het nie kontant nie. Hy wys ons die ablusie wat baie skoon en
netjies is. Dit word deur die bewoners
in die rondawels en die kampeerders gebruik.
Ons kan enige plek hier kamp, hoewel ons nie eintlik kampplek kan
sien nie. Hier is darem ’n hele ry tente wat blykbaar
deur konstruksiewerkers gebruik word.

Gweta-Lodge
Hier staan ook
’n “Overlander”-vragmotor en ’n paar bakkies wat vir wildbesigtiging gebruik
word. Die Duitser se besigheid is
eintlik om sy gaste op ritte in die Makgadikgadi-Panne in te neem. Toe ons vir hom sê dat ons maar gesukkel het
om hier uit te kom, toe sê hy dat dit maar “tricky”-besigheid is!
Ons trek die
bakkie agteruit in ’n bos in naby een van die rondawels. Dit bied vir ons darem bietjie privaatheid.

Ons kampplek by Gweta-Lodge

Ons kampplek by Gweta-Lodge
Ons is nou 544
km van Tom Burke af en kamp op 926 meter.
Dit is dus 16 meter hoër as die panne.
Ek stel baie belang in hierdie hoogtes want ek wil vasstel vanwaar die
water in die pan kom.
Voor ete drink
ek ’n pil vir my seer voet. Ek kan dit
eers saans drink want dit maak mens aan die slaap.
Ons eet en gaan
stort en gaan slaap weer teen 20:00.
Saterdag, 17 Augustus 2013 Gweta Na
Drotski-kamp
Ons word net
voor wakker. Ons het dus na ’n vermoënde
dag bykans 11 ure lank geslaap! My voet
voel heelwat beter.
Ons vertrek net
na 9:00. Ons ry so vinnig as wat die pad
en spoedbeperking dit toelaat. Ons het
’n lang skof vir die dag om die tyd wat ons met die visums verloor het deels in
te haal.
Ons ry ook deur
’n natuurpark en daar is die spoedbeperking 80 km/h. Daarna ry ons weer 125 km/h.
In Maun stop ons
by ’n vulstasie om die voorruit skoon te maak.
Die ruitwasser is egter in so ’n toestand dat ek maar eerder die bakkie
sy ruitveër gebruik om af te rond.
Ons is nou 750
km van Tom Burke af en is op hoogte 938 meter op die brug. Dit is dan ’n paar meter hoër as die hoogte
van die onderste punt van die Okavango-delta.
Dit is dus duidelik dat die oorloop water van die Delta deur die Nhabe-rivier
na die Makgadikgadi-Panne toe loop. Toe
ons oor die brug van hierdie rivier ry, loop daar ’n sterk stroom water
onderdeur die brug.
Ons ry deur die
kleiner strate van Maun om die middedorp te vermy, om so gou moontlik weer op
die oop pad te kan kom.
Ons ry vêrder op
die A3-roete. Sowat 10 km voor Sehitwe,
stop ons by die brug oor die rivier. Dit
is die ander groot rivier wat aan die onderpunt van die Delta uitloop wanneer daar
oortollige water is. Hierdie rivier loop
ook lekker sterk. Ons hou langs die
rivier stil vir middagete.

Die oorloop van die Okavango-Delta loop af na die
Ngami-Meer
By die dorp,
Sehitwe, draai ons links in en ry deur die dorp op soek na die Ngami-meer. Ons kry dit met ’n eenvoudige paadjie wat
deur die vissermanne gebruik word. Die
pad loop met ’n opvulling in die eer in waar die bote dan vasmeer.

Ngami-Meer

Ngami-Meer
Dit val ons op
dat die doringbome wat in die water staan, morsdood is. Ons kan net aflei dat hier nie altyd so
oorvloedig water is soos tans nie.
Moontlik is hier vir seisoene lank geen water nie.
Die Ngami-Meer
is vir ons as Dorslandtrekker-belangstellende belangrik omdat die meer soveel
wonderlik uitkoms vir die Trekkers gegee het.
Dit was vir hulle lewensreddend en verkwikkend. Hulle het so lank as moontlik hier gebly. Toe hulle verder moes trek was daar
verdeeldheid oor die roete. ’n deel het
besluit om in die rigting van Gobabis na Rietfontein te trek, waar hulle
afgespreek het om mekaar weer te ontmoet.
Die ander deel wou nie die veiligheid van die water van die Okavango
verlaat nie. Hulle het dus langs die
westekant van die Delta opgetrek.
Hierdie het roete was vir hulle redelik noodlottig want die muskiete het
hulle omtrent opgevreet en die meerderheid van die trekkers het aan Malaria
gesterf.
Vanaf Sehitwe ry
ons noordwes aan die westekant van die Okavango-Delta. Ons het nie vêr gery nie, of ons kry die
diere-beheer-hek. Ons het ons
vleis-voorraad so gereël dat ons veilig hier sal kan deurkom. Blykbaar het die middaguur die personeel so
aangetas, dat hulle vir ons net gewuif het dat ons maar kan deurry.
Nou lê daar ’n
lang pad voor. Ons dink voortdurend aan
die arme Dorslandtrekkers vir wie hierdie roete ’n doods-akker was. Die roete het ’n streep van grafte
agtergelaat.
By die dorp,
Nokaneng sien ons die sandpad waarmee ons in 2009 van Tsumkwe en Dorus-grenspos
gekom het. Nou ry ons in ’n deel van
Botswana waar ons nog nie voorheen was nie.
Vêrder op die
pad kry ons ’n bek-en-klou-seer-beheerpunt.
Ons moet met ons skoen op nat sak trap.
Die bakkie se wiele word aan die buitekant gesluit. Ons wonder altyd of hulle reken die kieme kan
nie ook aan die binnekant van die bande klou nie! Voorheen het hulle ons ook die los skoene op
die voertuig laat uitpak en die sole ook in die dipstof gedruk.
Toe ons deur ’n
klein dorpie ry, gehoorsaam ons soos gewoonlik die spoedbeperking. Aan die einde van die dorp is daar blykbaar
padwerke. Op die Saterdagmiddag is daar
egter geen sprake van werkers nie. Hier
is die spoedbeperking 30 km/h. Ek dag
toe nogal dit is laf, maar merk toe ook onder ’n boom die silhouette van ’n
verkeerskonstabel agter ’n kamera. Ek ry toe die hele ent teen ongeveer 25
km/h. Toe ek naby die verkeersbeampte
kom, spring hy van sy stoel af ek kom staan in die pad. Ek nader hom toe so stadig dat hy nie eens sy
hand uitsteek om my te stop nie. Ek
groet hom en ry verby. Toe kom sy bevel
om te stop. Hy kom na my aangestap. Ek groet hom vriendelik en vra of ek te
vinnig gery het. Ek ry dan 25 km/h. Hy ignoreer my humorsin envra my
rybewys. Dit vind hy in orde en laat ons
verder ry.
Die GPS os
gestel op die koördinaat van die Drodtski-kamp.
As dit nie daar voor was nie, het ons loshande daar verbygery. Die bordjie vir die lodge is teen die draad
weg van die pad en ons sou dit nie gesien het nie.
Ons ry met die
pad in na die kampkantoor waar daar ook ’n kroeg is met ’n wonderlike uitsig
oor die Okavango-rivier. Die beampte is
’n blanke man, Piet. Hy gee ons kampplek
nommers 6 en 7. Ons kan kies en hom
later laat weet. Op ons navraag sê hy
dat daar op Sondae by die krokodil-plaas langsaan om 11:00 ’n diens gehou
word. Ons bespreek ook ’n boot om ons
die volgende oggend om 9:00 vir ’n uur op die rivier uit te neem.
Ons kry ons
kampplek en neem nommer 7. Die ablusie
is goed maar ’n hele ent aan ons kampplek af.
Ek en Barbara het elk ’n keer in die bos in die donker verdwaal! Gelukkig is hier nie bere soos in die VSA
nie!

Slaan kamp op by Drotsky-kamp
Ons is nou 1148
km van Tom Burke af. Die hoogte is 1148
meter.
Die vergelyking
in hoogte bo seespieël is vir my baie interessant:
Hoogte van Makgadigadi 910
meter
Hoogte by Gweta 926
meter
Hoogte van Delta by Maun 938
meter
Hoogte by Drodski 968
meter
Die Okavango val
dus 30 meter oor die afstand van ongeveer 300 km. Dit is 3 meter elke 10 kilometer; en
300 mm elke 1 kilometer; 0.3 mm elke meter gemiddeld.

Kaart van Okavango-Delta
Sondag, 18 Augustus 2013 Drotski-kamp
Ons staan een
7:00 op. Ons is gewaarsku oor die ape
wat baie skelm steel.

Kampplek by Drodtski-Kamp
Met ontbyt steel
’n aap ons paplepel en gaan lek dit bo in die boom af. ons verjaag en verskree hom. Hy hardloop met die lepel deur die bome en
gaan uiteindelik af in die moeras. Daar
sit hy nog en lek. Ek kruip in die bosse in en gaan haal die
lepel waar hy dit op die kant van die moeras teen die riete los. Ek moes omtrent in die modder trap om die
lepel te kry.

Fanie red paplepel uit die moeras
Na ontbyt stap
ons na die lapa waar ons die boot moet kry.
Hulle sê ons betaal eers wanneer ons ons rekening vereffen Dan bereken hulle die hoeveelheid brandstof
wat gebruik is.

Bootvaart op Okavango-rivier begin
Ons vaar eers
stadig teen die kant van die rivier om die voëls te bespied. Die skipper vertel ons baie van die
voëls.

Voëlkyk

Bootvaart op Okavango-rivier
Ons kom by ’n
groot boom waar ’n visarend op ’n stak naby die water sit. Ons vaar nader om dit te afneem. Skielik duik die arend in die water en kom
met ’n yslike vis in die kloue uit die water.
Die arend vlieg tot hoog in ’n boom bokant ons. Ek zoom vinnig daarop in en neem die foto,
maar op daardie oomblik laat val hy die vis en dit plons in die water hier naby
ons. Die vis het nog probeer swem maar
draai toe sommer pens na bo. Ons hoop
toe die arend kom dit weer haal, maar die vis dryf toe onder boomtakke in.

Visarend verloor sy prooi hoog in die takke
Ons vaar verder
die rivier op teen bietjie hoër spoed.
Toe die rivier lekker breed voor ons uitstrek, draai ons om. Toe ons terug is, het ons reeds 100 minute
gevaar.

Bootvaart op Okavango-rivier

Bootvaart op Okavango-rivier

Ons skipper op Okavango-rivier
Terug by die
kantoor, staan ons van lapa en kyk uit oor die rivier en die moeras. Daar sien ons ’n yslike groot krokodil langs
die rivier lê. Dit is maar sowat 300
meter van ons kampplek af. As ek van
hierdie krokodil geweet het, het ek die oggend die paplepel afgeskryf en nie in
die moeras afgegaan het nie.

Krokodil by die lodge
Ons ry na die
krokodil-plaas net ’n paar kilometer suid van Drodtski. Ons stap na die kantoor en kry ’n klompie
mense in ’n soort van ’n amfiteater. ’n
Man lei ’n Bybelstudie uit 1 Johannes 5 in Engels, en daar is ongeveer 11
grootmense en 5 kinders in die
gehoor. Almal is redelik jongmense en
een ouer man.
Ons gaan sit ewe
beskeie agter. ’n Dame kom na ons en vra
in Afrikaans of ons na die krokodille kom kyk het. Toe ons sê dat ons vir die diens gekom het,
stop die diens net daar en ons ontmoet eers al die mense.

Lugfoto van Krokodil-plaas met Drodtski-Kamp links bo
tussen bosse.
Die prediker se
naam is Tim < tlbeckendorf@lbt.org >. Hy is ’n sendeling wat die Bybel in die taal
van ’n plaaslike bevolking in die Caprivi vertaal. Hy moes eers die taal aanleer en dit toe op
skrif stel. Dit is die soort
Wickliffe-metode. Hy en sy vrou en 2
kinders is daar.

Tim Beckendorf met sy gesin
Na die byeenkoms
word ons genooi vir koeke en tee. Ons
gesels lekker met die meeste van hulle.
Eben en Phia le Roux <ebenezerleroux@gmail.com> Hul ma is Willemien le Roux. Sommige van hulle werk onder die plaaslike
bevolking in opheffingswerk: Kultuur en
landbou.
Tim gee vir my
raad oor verblyf vêrder in die Caprivi.
Ons ry terug en
neem eers ’n paar foto’s van die ingang na die krokodilplaas.

Fanie by ingang na Krokodilplaas
Met laat-middag
gaan stap ons weer in die tuine van die lodge.

Kroeg en uitkykpunt by Drotski-Lodge

Son sak by uitkykpunt by Drotski-Lodge
Maandag, 19 Augustus 2013 Drotski-kamp Na
Mobala
Os is teen 7:00
op. Ons ontbyt, pak en vertrek. My voet is nou omtrent normaal.
Ons ry eers na
die Drotski-Lodge om ons rekening te vereffen.
Dit val ons op dat ons netsowel kon gery het, sonder om te betaal.

Drotski-Lodge se hoofgebou
Ons stap in die
lodge wat ’n indrukwekkende gebou is met hoë uitsig oor die grasperk voor die
gebou en die rivier. Ons ontmoet die
Drotski-egpaar. Ek vra of mense nie
wegry sonder om te betaal nie. Hy sê dat
dit net een keer gebeur het.
Ons betaal Pula
795 met kredietkaart vir die kampplek en wat die bootrit en petrolverbruik
insluit.
Ons ry na die
grenspos. Daar ontmoet ons ’n groep
mense wat hemde dra waarop die Dorsland-Fees uitgebeeld word. Hulle het die hemde op eie inisiatief laat
maak. Hulle is in twee voertuie en
bestaan uit ’n ma en haar dogter, ’n man en sy drie dogters en ’n vriend en sy
vrou.
Ons gesels
lekker met hulle in die rye. Hulle het
in een skof regdeur vanaf Pretoria tot hier in 27 ure gery. Hulle het saans hier aangekom en sommer by ’n
paadjie ingetrek en vir die nag gekamp. Die
volgende oggend kom die vrou van die eienaar hulle tegemoet. Sy is toe so hartlik en nooi hulle na haar
huis. Hier het hulle toe nog ’n dag
oorgestaan.
Ons kom darem
redelik maklik deur die 2 grensposte Ons
betaal N$220 om die Namibiese paaie te gebruik. Toe ons verder ry is dit ’n baie slegte
grondpad vêrder. Is dit waarvoor ons so
pas betaal het?
Ná ongeveer 19
km draai ons op Tim se aanbeveling regs in ’n tweespoorpaadjie na die
Ngepi-lodge. Ons ry ongeveer 5 km met
die pad en kom by ’n baie mooi lodge met kroeg langs die Okavango-rivier. Ons verwyl tyd daar en ry terug na die
grootpad.

Drodtski-Lodge se tuin

Ons ry Namibië binne

Okavango-rivier by Ngepi-Lodge

Ngepi-Lodge
By Bagani, draai
ons regs en ry oor die moderne brug oor die Okavango. Ons hier is ’n polisie-beheerpunt en ons doen
navraag oor hoe om na die Popa-waterval te ry.

Moderne brug oor die Okavango-rivier
Ons ry vir
ongeveer 5 km langs die tronk en dié se tuine aan die rivier se kant met ’n
grondpaadjie. Die pad draai links om die
tronk se gronde en ons kom by ’n kampplek.
Hier moet ons R20 elk betaal (RSA-geld) om die waterval te gaan sien. Ons laat ons bakkie hier en stap deur die bos
na die waterval. Dit is baie warm en ons
is lus vir swem, maar nie saam met die krokodille nie.
Die waterval val
oor 2 trappe skuins na die onderste vlak van die rivier. Ek skat die val sowat 3 meter.

Popa-Waterval in die Okavango-rivier
Ons ry terug na
Bagani. Dit is nie veel van ’n plek
nie. Die enigste noemenswaardige gebou
is die vulstasie wat tans herbou word.
Ek het nog gehoop om hier geld te trek maar hier is geen hoop nie. Ek plaas toe maar my hoop op Divudu wat ek op
die kaart sien.
Ons volg toe die
teerpad hier vanaf Bagani, ek kry niks te sien van Divudu nie.
Ons kyk nou uit
die bordjie na na River Dance wat Tim vir ons aanbeveel het. Ons sien wel ’n bordjie na die dorp, Andara.
maar draai nie met die grondpad daarheen af nie.
Ongeveer 9 km
verder kry ons die pad na River Dance.
Ons ry ongeveer 2 km in die rigting van die river en kry daardie ou pad
na Rundu wat nog ’n grondpad is. Ons lei
toe af dat Divudu en Andara langs hierdie ou pad geleë is en dat dit die rede
is waarom ons die “beskawing” hier in die Caprivi misloop.
Ons ry ongeveer
2 km wes op die grondpad parallel met die rivier en draai in na River
Dance. Dit is ’n baie mooi lodge met
kampplek, maar dit is baie duur. Hulle
is ook vol bespreek en ons kan nie daar kamp nie. Hulle beveel ons na die volgende kampterrein
aan.
Ns. ry dus nog 2
km verder wes en kry Mobala Lodge. Hier
kry ons wel plek en teen ’n baie laer tarief.
Ons kamp by staanplek nommer 3 @N$180-00. Hulle het nie telefoon-kontak met iets nie en
kan nie ’n kredietkaart neem nie.
Genadiglik kan ek en Barbara so R180 tussen ons uitkrap.
Die kampplek is
bietjie skuins en ek moet met die agterwiel op 2 klippe parkeer om ons
slaapplek in die bakkie darem naastenby waterpas te kry. Ek trek die bakkie sodat die lapa se
plaveisel as trappie in die bakkie kan gebruik.

Kampplek by Mobala Lodge

Kampplek by Mobala Lodge

Kampplek by Mobala Lodge
Ons trek ons
swemklere aan en gaan na die swembad langs die rivier, maar die water is so
koud dat ons nie vêrder as tot by ons knieë in die water kom nie. Ons poseer darem vir ’n foto.

Swemplek by Mobala Lodge
Daar arriveer
ook nog ander kampers. Een groep het 3
voertuie met sleepwaens. Hulle is ’n
kerklik groep van Walvisbaai, wat uitreik- en opheffings-werk onder die
plaaslike bevolking doen. Op een sleepwa
is 12 groot bokse met geskenk-pakkies in.
Die pakkies is geskenk uit die buiteland.

Kerk-groep van Walvisbaai met pakkies vir uitreik
Ons stap ook
langs die rivier. Die rivier split hier
in 3 om 2 lang eilande in die middel te vorm.

’n Delta van die Okavango-rivier by Mobala Lodge
Ons kamp op
hoogte 1024 meter en is nou 1275 km van Tom Burke af.
Dinsdag, 20 Augustus 2013 Mobala Na
Sachenheim
Ons is voor 7:00
op met die mooi sonsopkoms oor die Okovango-rivier. Wat ’n voorreg!
Ons vertrek net
na 9:00 weswaarts na Rundu. Die teerpad
loop baie reguit en maak net na elke 10 tot 20 km ’n klein knakkie. Ons veronderstel dit is ’n pad wat in die
oorlogtyd deur die RSA gebou is.
Rundu is ’n
groot, uitgestrekte dorp wat langs die Okavango lê. Ons het egter nie tyd om na die rivier af te
ry nie. Ons het darem genoeg daarvan
gesien.
Ons vul
hier met brandstof op die Garage-kaart
en gaan trek ook geld by ’n OTM by ’n nabygeleë gebou. Ons koop ook bietjie vrugte by die straatmark
voor die vulstasie.

Op pad na Rundu

Rundu se straatmark

Rundu

Rundu
Barbara bestuur
van hier. Ons verby verskeie skole. Telkens is daar ernstige spoedbeperkings
hoewel die skole tans vir die vakansie gesluit is. Die spoedbeperking word lank voor die tyd met
11 km/h aangekondig en dan na nog 300 meter word dit 80 km/h. Dan is daar weer ’n aanmaning en dan heelwat
later kom die skool eers. Dan moet mens
dieselfde afstand weer verby die skool wees voordat jy kan spoed optel. Dan is dit al amper weer tyd vir die volgende
skool!
Dan lê die lang
pad na Grootfontein voor. Ons stop voor
Grootfontein om bene te rek en ek bestuur weer van hier.
Ons wou graag by
die Boesman-sending in Grootfontein aangaan, maar deur ons korrespondensie het
ons vasgestel dat hier oor die naweek geen personeel sal wees.
Ons koop
kruideniers-voorraad, en groente en vrugte en die vorige dag se Rapport by die
supermark. Oorkant die straat koop ons
ook ’n Namibiese simkaart vir Barbara se selfoon.
Die hoogte in
Grootfontein is 1470 meter en ons is 261 km van Rundu.
Ons ry oor die
rante (1500 meter)en verby Tsumeb op hoogte 1306 meter. By die Otjikoto-meer (1207 meter) hou ons net
stil en kyk sommerso van die motor af na die wonderlike gat in die aarde. Met ’n vorige besoek het ons dit deeglik
gesien en afgeneem.
Ons haas ons om
by ons kampplek te kom. Net 2 km noord
van die ingang na die Etosha-wildtuin by Namutoni draai ons regs in na die
lodge waar ons in 2009 ook gekamp het:
Sachenheim (1125 meter). Op die
hek staan die woorde: “Wir kommen als
Fremden und gehen als Freunde.”

Kamp by Sachenheim
Ons betaal
N$220-00 en kamp lekker, en maak vriende met ander kampers wat almal Europese
buitelanders is. Twee egpare van
Duitsland; een toer met hul groot seun;
en ’n ander egpaar is van Switserland en kamp met hul twee groot
dogters.
In die volmaan
braai ons wors wat ons in Grootfontein gekoop het.
Woensdag, 21 Augustus 2013 Sachenheim Na
Ondangwa
Ons is voor 7:00
wakker en op.
Ons groet ons
Duitssprekende bure met die woorde wat op die toegangshek staan: “Wir kommen als Fremden und gehen als
Freunde.”
Ons vertrek teen
9:15 en ry na die toegangshek na Etosha by Namutoni (1100 meter). Ons betaal N$130 as dagbesoekers.

Ingang na Etosha by Namutoni
Ons ry eers die
roetes suid van Namutoni. Dit is
geweldig droog en baie stowwerig.
Hierna ry ons na
die ou historiese fort, Namutoni. Ons
stap deur die museum ’n ander besienswaardighede.

Namutoni
In die museum is
’n vrou met haar seuntjie wat baie vreemde aksent praat. Tot my verbasing hoor ek dat sy Afrikaans
praat. Ek vra haar toe daarna en sy sê
dat sy vir 4 jare lank in die VSA gebly het en terug is in Johannesburg.
Van hier ry ons
op ’n paar roetes weswaarts. Ons sien ’n
paar mooi diere en keer na Namutoni
terug. Ons het so 34 km afgelê.

Etosha

Etosha
Nou ry ons
noordwaarts. Net ’n paar 100 meter Noord
van die fort is daar bordjies wat aanwys:
“Grave”. Later hoor ons toe dat
die ook Dorsland-grafte is. Ons is toe
jammer dat ons nie tog maar daarna gaan kyk het nie.
Ons ry aan die
noordekant uit die wildtuin by Nehale-gate uit, 44 km noord van Namutoni. Later sluit ons weer by die teerpad
aan. Hier is ’n indrukwekkende groot
boerdery. Hier sien ons een van die baie
groot miershope.

Miershoop-klim
Ons ry nou op
die teerpad na Ondangwa. Hierdie is
seker die langste stuk reguit teerpad wat ek nog gery het. Dit is vir 65 km naald-reguit. Dan maak dit ’n klein knakkie en loop dan
weer vir 21 km reguit totdat dit sonder ’n kinkel in die hoofstraat van
Ondangwa inloop.
By al die baie
dorpies is daar spoedbeperking. Een
swart Mercedus wat voor ons afgetrek en beboet.
By ’n ander
polisie-padblokkade moet ons lank wag.
Een motor wat blykbaar ’n VIP is, ry net links op die grond langs die
pad by ons verby, waai vir die polisie en ry aan.
Ons het in 2009
by ’n lodge by die watergat in Ondangwa gekamp.
Ek het gehoop om dit weer te opspoor maar tevergeefs. Ons stel die GPS by ’n haarsalon waar ons
krag vir die rekenaar koop, op die koördinaat, maar die GPS mislei ons. Ons gee moed op en besluit om na Ruacana te
ry. In die middel van die dorp sien ons
toe ’n kamp-bordjie. Ons ry daar in ek
kry die Fantasia Gastehuis waar die vrou sê dat ons maar kan kamp as ons ’n
plek kan kry. Sy vra ons geen geld nie
maar ons kan van haar kroeg en eetsalon gebruik maak.
Ons slaan kamp
op en gaan stort voor die kontrakwerkers wat daar kamp, opdaag. Hulle kamp in 7 tente en ’n karavaan aan die
ander kant van die gebou.

Fantasia Gastehuis in Ondangwa
Ons ontmoet 3
manne wat saam met ons daar opdaag en die laaste kamer neem. Ons maak lekker vriende met hulle. Die een is Louis van den Berg, vroeër
predikant van die Ned. Hervormde Kerk in Grimbeekpark, Potchefstroom. Hy is uit sy vrou en uit die bediening, maar
wil graag weer terugkeer, al is dit sonder vergoeding. Hy is juis op ’n ekskursie in besigheid wat
dit vir hom moontlik moet maak.
Louis ken vir
Shai se broer, Nico, en wil graag weer met hom kontak maak. Hy ken ook vir Shai toe hy in die oorlogtyd
in Rundu kapelaan was.
Louis ry saam
met 2 manne. Die een is Francois, ’n
diamanthandelaar wat besig is om ’n konsessie in Angola te koop.
Ons sit op die
stoep en bestel Margareta-pizzas. Dit
word weer van die dorp af bestel en ons ag amper ’n uur daarvoor. Ons sit aan tafel en dagboek skryf.
Ons gesels ook
met die 3 manskap. Barbara noem hulle
die 3 musketeers. Hulle sê solank dit
net nie die 3 Stooges is nie!
By die ablusies
gebruik die kontrakwerkers die mans- en dames-geriewe. Barbara maak by hulle daarteen beswaar. Een ou sê vir haar: “Sommige ouens is maar so!”
Die 3 musketeers
bied toe aan dat ons maar hul badkamer en toilet kan gebruik, wat vir ons ’n
groot uitkoms was.
Ons stel nou
maar ons horlosies ’n uur vroeër om by die Namibiese tyd aan te pas. Ons RSA-horlosie het ons tot hiertoe te veel
rondgegooi. Ons moet 8:00 môre vir
ontbyt aanmeld.
Ons gaan slaap
teen 21:00 Namibiese tyd.
Donderdag, 22 Augustus 2013 Ondangwa Na
Okapupa
Ons geniet ’n
heerlike Engelse ontbyt op die stoep @N$35 elk.
Ons ontmoet ook die vrou se man met die baard. Nooit gedink ons gaan hom later op die toer
weer raakloop nie.
Ons vereffen ons
rekening van N$160 vir die aand en oggende etes.
Ons ry vêrder op
die B1 noord-wes. Ons is nou in die
vloedvlaktes waar die oorloop van die Kunene-rivier in Angola breed oor die
vlaktes stoot en dan uiteindelik in die Etosha-Pan inloop. Die hoogte bo seespieël bly dus konstant op
1112 meter.
Hier is baie
motors op die pad en baie spoedbeperkings.
Ons vorder maar stadig.
By Oshakati ry
ons by ’n groot nuwe Mall verby en besluit om in te draai.

Oshakati-Mall

Oshakati-Mall

Oshakati-Mall
Die mall is
splinternuut en omtrent net die helfte van die lokale is betrek.
Ons gaan eerste
na die Pick ’n Pay want dit is moontlik ons laaste kans vir voorrade vir
Angola. Kos en alles daar is glo baie
duur, behalwe brandstof.
Barbara loop ook
deur ander winkels en ek verstom my aan die luukse en modieuse kleredrag van
die plaaslike swart mense. Selfs ook
die motors waarmee hulle daar aankom, is net verstommend. Die meeste van hulle kom ok net om te kom
geld trek. Dit gaan beslis goed in
hierdie deel van Namibië. Ek sien
omtrent geen ander wit mense nie
Ons ry verder
deur Oshakati. Dit is ’n baie groot plek
en die verkeer beweeg omtrent net. Buite
die dorp gaan dit onmiddellik beter, maar die spoedbeperkings by al die dorpies
en skole is uiters frustrerend. Dit is
’n enorme afstand van die eerste waarskuwing om stadig te ry totdat jy verby
die skool is en weer 120 km/h kan ry.
By een dorpie is
daar padwerke net ’n Ry/Stop. Ons stop
by die beampte. Daar kom motors van
vooraf, maar baie draai af voordat hulle by ons kom. Hy gee toe vir ons die Ry-sein. Ons het net ’n paar 100 meter op die
enkel-regter baan gevorder, of daar kom weer moors van vooraf. Ons draai toe maar oor die pad links en ry op
die grond langs die pad. Daar is toe
etlike ander voertuie wat dieselfde doen.
Die verkeer in die eenrigting-baan hou ook nooit op nie. Na omtrent 2 kilometers kom ons by die einde
van die Ry/Stop. Die beampte daar is net
so verward en glad nie in beheer nie.
Hulle het van Ry/Sop gehoor maar dit werk duidelik nie hier nie.
Net buite
Oshakati is daar ’n kanaal aan die suidekant van die pad. Oos van Oshakati was daar ook ’n waterkanaal
maar dit was nie met sement uitgevoer nie.
Die hoogte klim van Oshakati van 1112 tot 1118 meter. Die waterloop dus van wes na oos. Daar is heelwat landbou-bedrywighede langs
die kanaal en mens kan sien dit is ’n lewensaar.
Hierdie kanaal
loop ongeveer 120 km langs die pad en dan kom dit naby die dorpie, Outapi,
onderdeur die pad van die Calueque-dam.
Van hier is dit nog ’n ent na die dorpie, Ruacana. Ons het alles wat ons nodig het en ry
verby. Net hierna sak die pad in hoogte
vanaf tot meter.
Ons hou stil by
die Hippo Camp langs die Kunene net onderkant die Hydro-stasie. Ons maak hier ons middagete by die plek waar
ons in 2009 gekamp het. Hier is nou ’n
draad gespan om die mens van die krokodille te skei.

Hippo Camp langs die Kunene-rivier

Hippo Camp langs die Kunene-rivier
Laaste skof langs die Kunene-rivier na die
Okapupa-Kampterrein vir die Dorsland-fees.
Ons vat die pad
vêrder. Dit is nou die grondpad langs
die Kunene. Ons ry ’n steil bult uit en
anderkant af. Die pad is geskraap en ons
is baie verras oor die goeie toestand.
Toe ons by die berugte Witbult. Dit
is nogal steil, maar darem nie te sleg nie.
Hierdie pad is bekend as ’n stywe 4x4 roete, maar nie meer nie. Later verneem ons dat die pad spesiaal vir
die Dorslandfees opgeknap is.
Ons ry deur ’n
paar interessante driwwe en langs mooi plekke langs die Kunene. Ons ry ook verby die Voortrekker kamp wat
tans daar aan die gang is.
Ons kom by Okapupa
en trek in die kampterrein in. Ons het
reeds 2866 km van Bloemfontein afgery.
Ons is by S16° 48 57.101 E14°
35.312 en op hoogte 774 meter. Oor hierdie naweek word die Dorslandtrek-fees
gehou.
No comments:
Post a Comment